Die man glo in eerlikheid en harde werk,
soos die destydse Volkskas mantra: Arbeidsaamheid. Vrouens koes
vir sy kritiek, maar weet hulle kan hom vertrou al speel hy glo nie
klavier soos Bach nie. Die eks bankkassier se lewe het verander toe
hy modeontwerper word. Die bankwereld se verlies het Suid-Afrikaans
vrouens se wins geword.
Titel: Gehaat, geliefd, Simon wéét van
rokke
Simon Rademan (44) se plakboek lê oop in sy
sitkamer. Blaai ’n mens dit deur, vertel dit die storie van sy drome,
sy lewe en sy lappe wat al aan sowat 120 bekendes se lywe gehang het.
Hestrie Cloete is daar. Natasha Sutherland. Chante Hinds. Nog
gesigte. Nog uitrusting. Kritiek, kommentaar.
Simon verskyn in die sitkamer. In gitswart. Net
’n silweroorbelletjie verbreek die monotoon.
“Die Golden Globes!” ’n Klein gilletjie voordat
hy die televisie aanskakel. “Ek hoop nie jy gee om nie, maar as daar
’n toekenningseremonie is, kyk ek die hele dag televisie.” Sy
kommentaar is pittig. “Ag nee, niemand doen moeite met hulle hare
nie. Dit lyk asof hulle net so uit die bed opgestaan het.”
Simon vier vanjaar sy 20ste jaar in die
modebedryf en sy swak-en-besgeklede lysie is vanjaar tien jaar oud.
“Ek kan nou nog nie glo wat die afgelope 20
jaar in my lewe gebeur het nie.”
Hy het sy loopbaan as kassiere by Volkskas
begin en ’n paar draaie op die verhoog gemaak, maar as die lewe se
dobbelsteentjies nie vir hom reg geval het nie, sou hy seker ’n
akteur gewees het.
Wat is die hoogtepunte in jou loopbaan?
Hy antwoord dadelik. “Die dag toe ek ingeskryf
het vir ’n kursus in mode-ontwerp. Ek het maande gespaar en toe ek
begin studeer het, was my studies vooruitbetaal. Volkskasbank se
leuse, Arbeidsaamheid, is nou nog my lewensmotto.”
Simon maak dit duidelik dat sy klere nie vir
elke Lenie en Marie is nie. “My rokke is duur. Ek gebruik die beste
materiaal. En my ontwerpe is ook uniek. Ek maak vir niemand
dieselfde rok nie, maar my inligting is gratis. Ek sal enigiemand
help met klerekasbeplanning en vir hulle stylwenke gee.”
Simon glo dat sy eerlikheid ’n groot rol in sy
sukses gespeel het. “Ek sal nooit vir ’n kliënt jok nie. As iets nie
pas nie, pas dit nie. Ek glo mense het my begin respekteer.”
En ja, daardie swakgeklede lysie. Simon lag.
“In 1999 het ’n koerant my en ’n paar ander
ontwerpers genader om kommentaar te lewer oor bekendes se styl.
Daardie tyd was dit maklik, almal het soos die hond se dinges gelyk.
“Annie Malan was nommer een op my swakgeklede
lysie. So het Terese Trotskie ook die lysie gehaal. Toe ek die
koerant oopmaak, was net my lysie daarin. Terese was woedend. Hulle
wou my dagvaar. Ek het gedog my loopbaan is daarmee heen. Toe doen
’n tydskrif ’n artikel oor haar klerekas en wat ’n disaster,” lag hy.
Oor die jare het vroue gebewe en gerittel as sy
lysie verskyn. Elana Afrika, Christina Storm. Esmarè Weideman. En
net verlede jaar, Annique Theron. “Sy is baie kwaad vir my, maar
haar onderklere het uitgesteek.”
En kritiek is daar ook.
“Al Simon se vriendinne is op die besgeklede
lysie. Hy trek vir Arina de Witt en vir Liezl van der Westhuizen aan,”
het iemand gemopper.
“Ek het al die meeste vroue in die bedryf
aangetrek. Baie van die wat op my swak- en besgeklede lysie verskyn,
is my vriendinne. Ekbesluit nie self nie. Die publiek besluit en
stem wie op die lysie moet verskyn.
“Van my eerste modevertonings het Annique vir
my gereël, maar as sy sleg lyk, lyk sy sleg. Punt.”
Hy verskoon homself om weer vinnig na die
Golden Globes te gaan loer
Sy vet worshond, Prins Juan Carlos, draf
waggelend agterna. Dan begin hy bulderend lag. Die prins het op die
persiese tapyt gepiepie.
“Nee, Juan, prinse piepie nie op tapyte nie.”
Dit is Simon. Modekenner, connoisseur,
ontwerper, kritikus.
________________________________________________________________