1. 21 jaar is 'n baie lang tyd. Wat is die grootste verandering wat jy oor die jare in SA gesien het i.t.v. mense se persepsie van mode?
    Ons woon vandag in 'n globale dorpie en Suid-Afrika bly beslis nie agter nie. Vroue in SA inspireer in 2010 mekaar en nie noodwendig soos 21 jaar gelede waar dit tydskrifprentjies van internasionale sterre was nie.
  2. Wat het jou vir 21 jaar laat aanhou om te doen wat jy doen?
    Ek kry dit reg om vir 'n vrou iets te gee wat sy nêrens anders kan kry nie. Ek kry dit reg om drome waar te maak. Die mode verander ook so vinnig dat daar 'n magdom style is om van te kies, mee te eksperimenteer sodat geen twee vroue dieselfde lyk nie. Ek word vandag geken aan my talent om uit die mode te kan haal wat die skoner geslag laat goed lyk en goed voel. Dit bly 'n kunsvorm waarin iemand kan leef, dit word later vintage, erfstukke wat 'n tweede geslag vroue kan geniet.
  3. Hoekom gebruik jy die skoenlapper-simbool (papillion in Frans) om jou 21 jaar te kenmerk?
    Die skoenlapper simboliseer vir my die veranderlikheid en voortdurende aanpasbaarheid van mense by enige omstandighede. Ons verander konstant, mode ook. Ons pas aan, mode ook.
  4. Een van jou mooiste herinneringe oor die laaste jare?
    Ek klee en ontwerp vandag vir my bruide van 21 jaar gelede se matriekdogters! Die matriekmeisies van toe is selfs vandag nog klerekas-kliënte van my. Ek kon 'n blinde laat "sien" deur kralewerk op so 'n manier te doen dat daar trane was van opgewondenheid.
  5. As jy moet skat, hoeveel uitrustings/ontwerpe het jy in 21 jaar gemaak?
    Ek tel nie meer nie, ek tel nóg.
  6. Wie/wat was jou grootste inspirasie om te begin as mode-ontwerper?
    Die onblusbare drang na die eksotiese en die unieke. Vroue het toe gesukkel en sukkel vandag nog om te kry presies wat hulle wil aantrek. Ek verstaan daardie behoefte en doen dit 'n oogwink.
  7. Wie beskou jy as SA se best dressed celeb tans? En 'n paar jaar gelede?
    Sy is gesofistikeerd, stylvol, altyd inspirerend en 'n tonikum: Me. Jo-Ann Strauss. Sy volg in Me. Penny Coelen se voetspore.
  8. Vir wie sal jy graag nog 'n uitrusting wil ontwerp?
    Trourokke bly my groot, gróót liefde, maar beslis nie vir elke vrou in elke huis in elke dorp, naby elke stad in elke land nie. Ek het nog altyd, en sal ook altyd, vir die gesofistikeerde, elegante vrou ontwerp wat eksklusiewe, glansryke oomblikke wil beleef wat sy vir baie, baie lank gaan onthou...
  9. Enige ander groot planne vir 2010?
    Ek is in murg en been 'n kunstenaar wie se eerste liefde ontwerp vir die vroulike vorm bly. Alles wat daaruit voortspruit, wink vandag vir my en sal aandag kry. My boek, skilder, my tee-winkel...