Some of the many articles printed about
Simon Rademan
Back to homepage
Enter Site
*

"Simon Rademan -
bekendes se kinderjare"
Rooi Rose
Article by Terésa Roodt, Photos
Leana Clunies-Ross
*
... stylghoeroe, Simon Rademan,
wat bo uitgekom het. - Martie Pansegrouw, Redakteur, Rooi Rose
Nie een van hierdie
bekendes het dit maklik gehad nie. Maar omdat hulle dáár was, die
slegte kant gesien en gevoel en geproe het, het hulle ‘n wilsbelsuit
geneem dat dit eendag anders sou wees, dat hulle sal uitstyg bo hul
omstandighede.
En vandag is dit anders...
Joernalis: Teresa Roodt,
Rooi Rose
Simon Rademan
So eenkeer elke dan en wan
het die Lions se trokkie voor die Rademans se skakelhuisie daar op
Ceres gestop. En dan was die hele huishouding in rep en roer, want díe
trokkie in die straat het net een ding beteken. Nuwe klere.
Nuwe ou klere, altans.
Ongelukkig was hierdie
voorreg net vir ouboet Remeurus beskore, want een van die Lions se
reëls was mos dat net die oudste kinders van die arm mense klere kon
kry. Dié derde, vierde en vyfdehandse aalmoese moes dan maar later
weer gehou word vir die ander kinders in die huis.
En terwyl Remeurus sommer
so in die straat gestaan en klere kies het, het klein Simon die spul
daar van die sypaadjie af met sy hande onder die ken gesit en betrag.
Soms het hy maar net diep gesug. Want sy ouboet was nooit regtig
bekend vir sy oog vir mode of detail nie.
Teen die tyd wat die klere
in Simon se kas beland het, was dit net duskant vodde. Maar dit het
hom nie gekeer om een van die bes-gedressde seuntjies op Ceres
te wees nie. Met ‘n knoop-en-doop hier, ‘n ekstra naat of twee dáár
en soms selfs ‘n las met ‘n stuk ou oorskietlap, het hy dikwels ‘n
hele nuwe ``wardrope’’ geskep.
Soms sommer met ouma Gerrie
– wat aan die goeie kant van die dorp gebly het - se Singer.
Daai einste Singer het
vandag ‘n ereplek in sy ateljee daar in Groenkloof, Pretoria, waar
Simon Rademan as een van ons land se bekendste modeontwerpers deesdae
die rykes en bekendes van die land opdress.
Op Ceres het almal geweet
van Dofie en Ada Rademann. En as die name nie ‘n klokkie gelui het
nie, kon jy maar net sê die twee dowes op die dorp ...
Ou Dofie was die nutsman by
die Belmont hotel. Die vriendelike, eergevoelige ou man wie se hande
vir niks verkeerd gestaan het nie. En Ada was die rondborstige tannie
wat altyd sulke vreemde geluide gemaak het as sy probeer praat het.
Maar met ‘n hart van goud.
Almal op die dorp het van
die dowe mense geweet met die twee seuns Meurus en Simon.
Selfs die polisie ... wat
gereeld met hul groot geel wa nes die Lions-trokkie daar voor die twee
slaapkamer skakelhuisie gestop het.
Om boodskappe te gaan gee.
Want sien, omdat oom en tannie Rademan albei doof was, het hulle nie
eintlik nut vir ‘n telefoon gehad nie. En die familie het geweet as
daar iets dringends is, kon hulle maar net die polisie bel wat altyd
goedgunstiglik die boodskap vir een van die kinders gaan gee het. Die
kinders het dit weer in gebaretaal aan hul ouers vertel.
``Ons was lag-lag van die
armste mense op die dorp,’’ onthou Simon. ``Daar was tye waar dit so
swaar gegaan het, dat ek moes kies tussen melk of suiker in my koffie.
Maar snaaks, dis nie eintlik wat opkom as ek nou terugdink aan my
kinderjare nie ...
``Dis kere soos die dag met
Lady Di se troue wat my ma gesê het ek mag maar uit die skool uitbly
sodat ek vir haar kan vertel wat op die televisie gesê word, wat in my
lekkerste herinneringe geëts is.
``Dis die kere wat ek as
klein laaitie in die bad gesit het en aan die papierdun mure gestamp
het om my ma te roep dat sy my kom afdroog. In ons huis was al die
meubels teen die mure geskuif sodat ons mekaar so met die vibrasies
kon roep. Ons deurklokkie was ‘n lig wat geflikker het deur die huis
....
``En my hart wil huil as ek
onthou met hoeveel sorg my ma altyd ons huisie skoongemaak het. My ma
het altyd gesê, my kind, jy kan arm wees, solank jy net nie vuil is
nie.’’
En dan is daar die kere wat
–as hy kon gekies het – hy eerder sou vergeet het. Soos toe hulle
daardie een Kersdag hul kisklere aangetrek het om by die hotel te gaan
eet. Vir ‘n krismisboks kon al die werkers by die hotel verniet gaan
eet – nogal in die eetsaal tussen die gewone gaste. Almal, behalwe die
Rademans, vir wie ‘n tafel sommer so eenkant in een van die portale
gedek is. Sy hart wou breek omdat sy pa só verleë was voor hulle.
Hy onthou hoe die ander
kinders op die dorp nooit by hom wou gaan speel nie. Hulle was
heeltemal te bang vir Ada wat sulke aardige geluide gemaak het wanneer
sy wou praat ...
‘n Draaipunt in sy lewe het
gekom toe ‘n weldoener, Immie Smit en haar dogter: Louie Wessels, aan
die einde van sy standerd nege jaar vir Simon genooi het om in
Pretoria te gaan kuier. Immie was ‘n gas by die hotel en sy het
vriende met Dofie geraak.
``Tannie Immie het daar in
Pretoria vir my ‘n blou langbroek en ‘n rooi hemp met ‘n blou das
gekoop. En in daardie grênd klere het sy my uitgevat vir ete. Dit was
in daardie einste restaurant waar ek vir die heel eerste keer in my
lewe kos van ‘n spyskaart af bestel het.
``Ek wou nie teruggaan
Ceres toe nie. Ek het ‘n stukkie van ‘n lewe ervaar wat ek vir myself
wou hê. En dis dáár waar ek ‘n wilsbesluit geneem het dat ek eendag
wéér van spyskaarte af gaan eet.’’
Intussen het hy een van
die suksesvolste ontwerpers in die land geword en sy naam het al
ontelbaar baie teen die lywe van ander groot name gepronk.
Maar Simon weet dis nie
eintlik so belangrik nie. Want hy was aan albei kante van die
spektrum. Hy was al heel onder. En hy was al heel bo. En hy weet dat
daar saam met sukses ‘n verantwoordelikheid kom teenoor mense. Hy weet
dat almal tog maar aan die einde presies dieselfde is. En dat geld
nooit bepaal wie jy regtig is nie.
*
© Simon Rademan Fashion
Design Studio CC
________________________________________________________________
Back to homepage /
Appointment procedures /
Order information /
Contact us /
Enter
Site /
Consultations /
Costs /
Wedding gowns /
Free articles /
Celebrities /
Background /
Magazines /
SA's best and worst /
Save money /
Matric farewell /
Our official Fashion page /
Play intro
_________________________________________________________________________ |