Some of the many articles printed about
Simon Rademan
Back to homepage
Enter Site
*

"Die man met die X-faktor"
Rooi Rose
Article by Bettie Kemp, Photos
inside by Hema Patel
*
SIMON RADEMAN
Suid-Afrika se couture-ontwerper vier 30 jaar in die modebedryf.
En hy is steeds op vol spoed in die hoogs mededingende glanswêreld.
find and follow
@simonrademan on all social media
Praat van glans. Koninklik, dis hoe jy voel as jy by Simon se
ontvangsportaal instap. Daar’s vergulde spieëls, kristal, ‘n reuse
Mej Suid-Afrika kroningstoel, lampe en ‘n vleuelklavier. Later drink
jy tee uit ‘n fyn Royal Albert porseleinstel met roospatroontjie en
die naam “Celebration” aan die onderkant van die koppie. Baie gepas.
Daar’s baie om te vier.
Maar Simon is nie met ‘n goue lepel in die mond gebore nie. Sy lewe
was ook nie soos dié van ander kinders van gewone middelklas ouers
op Ceres nie. Hy was ‘n CODA. Child of a Deaf Adult, spel hy dit uit
met sy hande. Dis sy ander taal: gebaretaal. Hy het daarmee
grootgeword want albei sy ouers was doof. “Die enigste klank in die
huis was as ek en my ouer broer baklei het. Die meubels was ook teen
die mure gestoot want as iemand kwaad geword het is daar voete
gestamp, almal moes dit hoor. Sy ma se spraak was harde verwronge
klanke. Verder was dit ‘n stil huis, baie stil,” onthou hy. Ma Ada
het in die vrugtepakhuis op die dorp gewerk en pa Simon was algemene
voorman by die Belmont Hotel. Dinsdagaande het hulle ‘n movie
gewys en die werkers se kinders kon saamkyk maar hulle moes agter in
die hoek gesit het. Dit was die vermaak. Toe TV kom moes hy en sy
ouer broer altyd vir hul ouers tolk sodat hulle kon volg. Hulle was
ook altyd baie versigtig as hulle radio geluister het, want daar
moes gedurig getolk word.
Dis
eers nà sy twee jaar verpligte militêre opleiding in die weermag op
Voortrekkerhoogte en Youngsfield dat sy oë begin glinster soos hy
onthou.
“Ek
het sonder ondervinding vir sowat ‘n jaar lank patrone opgetrek vir
‘n boetiek, Jabriz, in die Kaap, terwyl ek bedags in die ou
Volkskasbank gewerk het,” vertel hy. “Oor naweke het ek gespeel met
kostuumwerk vir die dramas van die toneelstukke waarin ek gespeel
het.” Waar wil jy lekkerder uitdagings hê as om met die kostuums te
werk van dramas soos Die spook van Verlatenfontein en die
rags to riches Bybelverhaal Joseph and the amazing
technicolour dream coat.“En tussendeur het ek gespaar en gespaar,”
onthou hy.
Dis
tóé dat hy aansoek gedoen het by die enigste plek waar jy destyds
binne een jaar kon kwalifiseer as ‘n ontwerper – die Nasionale
(later Internasionale) Mode-akademie van Ponie en Lee de Wet.
En
so het hy opgepak en die Kaap verlaat vir die ou Transvaal. “Selfs
die adres was luuks uitlokkend: Die Goue Deur in
Andriesstraat, Pretoria,” glimlag hy en voeg by: “Ek het selfs
klaskaptein geword.” Hier kon hy sy onversadigbare honger om te leer
en meer te weet van die mode-wereld stil met werk vir Gina Snyman in
haar boetiek. Dan was daar nog die hoedemaak-klasse by Marthinus
Holl. Daar was geen ruskans nie. “Nee, ruskans vir my was om
te ontwerp en luukshede te skep vir kliënte.“
Een
van daardie eerste kliënte was Nataniël. “Toe hy nog hare gehad
het,” voeg Simon by. “Ek het in sy musiekvideo The Bat
gespeel en ons was albei vars uit die Kaap in die Noorde. ‘n
Gemeenskaplike vriendin Coreen het vir hom so ‘n be-glitterde,
bedrukte fluweelbaadjie begin maak en toe vasgehaak. Moes Nataniël
se vlegseltjie binne die baadjie of bo-oor die hoë nek gaan as hy sy
kop beweeg?”
Simon wou altyd teruggaan Kaap toe maar toe wen hy die Wolraad en
Sanlam se kompetisie vir die jong vindingrykste ontwerper. “Mense
het in my begin glo. Dis nie die pryse of titels en toekennings wat
die belangrikste was nie maar die feit dat iemand jou in die oë kyk,
in jou glo en jou betaal om vir hulle ‘ietsie’ te maak.”
Dis
juis oor die betaal waarna ek hom uitvra. Daardie idee dat
ontwerpers onbekostigbaar duur is. “Om binne die kliënt se begroting
te bly, dis genoeg inspirasie om altyd kreatief te werk,” kom die
antwoord wat hy met drie dekades se ervaring opgedoen het.
En
so het Simon sy mode- en ontwerp onderneming begin. Eers met een
werker Rina, toe Sandra… Hy onthou daardie eerste ontwerpe was baie
modieus. “Ja, dit was die tipiese 80’s styl. Vandag is dit vir my
fantastiese geskiedenis: die pofmoue en uitskoprompe met piepklein
begrotings op my naaimasjiene die Contessa en Elna, vandag nog
staatmakers.
Gepraat van begrotings. Sy inspirasie daardie tyd het uit die
peperduur Book Moda en Alta Moda gekom. Sy mentor Gert Coetzee het
sy boeke vryelik vir hom geleen. “Die uitdaging was nie om te
kopieer nie maar om geinspireer te word en dit jou eie te maak.”
Hy
glimlag oor daardie eerste jare toe hy wol en Gaberdene gebruik het
vir een van sy eerste “eksperimente” en toe die Wolraad se jaarlikse
prys gewen het. Hy was gelukgewens deur mense soos Marike de Klerk
– eertydse vrou van oud-president F W De Klerk. “Ek het smoorverlief
geraak op die gevoel van ‘n wenuitrusting op ‘n stylvolle vrou se
gesig. Daardie skewe kykie in die spieel, die effense swaai van regs
na links… en weer terug na regs. Vandag nog.”
Hoe
hou hy sy werk steeds vars en nuut na dertig jaar? “Dis maklik,”
antwoord hy. “Ek herontdek my sintuie en vind inspirasie uit
verskillende kombinasies daarvan. Ons is tog elkeen ‘n individu.
Geen twee persone het dieselfde ervarings en interpretasies van iets
nie. Elkeen het sy eie idee van styl.” Hy het juis ‘n boek daaroor
geskryf. The Style Bible (2013) wat veral onder studente
gewild is.
“Ek
luister na elke woord van my kliënt se versoek en dan sal ek eerlik
antwoord waarom ek ‘n idee sal veto.”
Op
sy grafsteen sal staan: Simon het nooit geplak nie. “Daar is genoeg
ontwerpers in ons bedryf wat met gom plak. My kliënte sal getuig van
my afkeer aan gom.“ Hy skep liewer self sy eie besonderse detail
deur werk wat wat honderd jaar gelede bekend was as stump work.
“Dis ‘n kombinasie van enige mikro tegnieke soos lapwerk en
kralewerk,” verduidelik hy die konsep. “My werk was nog altyd ‘n
kombinasie van alle stokperdjies wat ek gehad het. Ek het dit by tye
vergeet. Maar nou herontdek ek dit weer met hierdie eksklusiewe
kunsvorm.”
Sy
hande staan vir niks verkeerd nie. Sy mentor Gert Coetzee het hom
die fynste punte van die bustierre geleer. Hy kan Brusselse
en Russiese kant maak en bemeester nou die Switserse tegnieke. “Dis
hartseer dat die mark oorstroom word deur rekbare en oormatige blink
lappe uit die midde en verre Ooste,” merk hy terloops op. Dis juis
met die blye en gelukkige geleenthede waarin hy hom kreatief kan
uitleef – met die bruidsuitrustings en aanddrag. “Ek spesialiseer in
couture. ‘n Franse term wat deur wetgewing beskerm word.”
Oor
kopieë van sy werk bekommer hy hom nie. By die ingang van sy
onderneming is daar ‘n plakboek van sy werk. “So dik soos die Here
se genade,” verdraai het met ‘n knipoog die uitdrukking. “Foto’s van
bekendes se eerste, tweede en selfs derde trourokke!” Maar dis
meestal afdrukke wat in die media was. Sy oorspronklike sketse is
dikwels ‘n geskenk aan die kliënt.
“Met sosiale media is daar deesdae soveel debat en bakleiery oor wie
die oorspronklike skets en ontwerp besit. Ek beskou die kliënt as
die een wat naas my die aanvanklike kopiereg besit. Maar slegs
totdat dit aan vriende en die publiek gewys word, totdat die eerste
foto ‘n tydskrif tref. Simon Rademan is geregistreer as ‘n
handelsmerk maar,” sug hy “die bakleiery oor wie se idee dit eerste
was met die peephole sakdoekmou, die een met die splete voor
en agter, die gerolde cuffs… ag, dis nie die moeite werd nie. Ek
glo jou talent laat jou aanbeweeg na die volgende en die volgende…
én die volgende.”
Ons
praat en praat en Simon maak verskoning… dat hy so baie praat. “Maar,”
sê hy “dis omdat ek so passievol is oor wat ek doen dat ek nie weet
waar om op te hou nie.” Dis toe daar ‘n blaf iewers agter ‘n toe
deur opklink dat hy ophou. Dis sy bruin Worshondjie wat ook ‘n sê
het in die saak. Hulle is immers onafskeidbaar. Blink ogies sit hy
wang teen wang met sy beroemde baas op die foto wat ek later kry. Sy
naam? Prins Juan Carlos die Eerste. Koningskind. Hoe dan anders.
SY
WYSE WOORDE
“Ek glo dat dit wat
mens werklik nodig het reeds in jou is. Dit sit hier binne ons,
gereed om herontdek te word.”
OOR MODE, STYL EN WARE
STYL
1.
Styl is
daardie X-faktor. Dit kan nie maklik in woorde opgesom word nie maar
as ek móét: Mode is wat die wêreld sê. Styl is wat jy sê. Ware styl
is hoe jy dit wat beskikbaar is, interpreteer.
2.
Wees skoon,
netjies, kam jou hare. En sê “asseblief” en veral “dankie”
3.
Jy hoef
nie altyd nuwe duur klere aan te skaf nie. Dikwels is dit net nodig
om dit wat jy het weer te versorg, op te fris en skoon te maak.
4.
Aanvaar
jou figuurtipe. Klee dit, gestroop van onnodige foefies.
5.
Glo in jou
“gut feel.” Dis jou Godgegewe 6de sintuig
6.
‘n Handsak
is nie ‘n sportsak vir jou wêreldbesittings nie. Dis ‘n
bykomstigheid en ‘n fantastiese fokuspunt vir enige figuur.
7.
Ware styl
is dit wat jy sê sonder woorde, wat jy hoor sonder erkenning, hoe jy
optree sonder om te weet iemand kyk vir jou
WAT WEET JY VERSEKER NA
30 JAAR AS MODE-ONTWERPER:
1.
Wees van
die begin af eerlik met jou kliënt. Sy neem makliker kritiek van jou
as van haar beste vriendin of eggenoot.
2.
Moenie dat
die “ontwerp” onrealisties wees nie. ‘n Stylvolle vrou wil nie met
‘n eienaardigheid rondloop nie. Sy weet wat sy wil hê. My raad moet
subtiel ontslae raak van modefoefies.
3.
Wat
‘n vrou dra is nie so belangrik soos hoe sy dit dra nie.
4.
Ek sit
steeds geen “sizing” in my ontwerpe nie. Jou waardigheid word nie
gedefinieer deur jou mates nie. Ek frons behoorlik wanneer iemand
vra: ‘Wat is my size.’ Ek antwoord dit nooit nie.
5.
Suid-Afrikaanse vroue is baie stylvol. Die deursnee vrou is belese
en ingelig.
*
© Simon Rademan Fashion
Design Studio CC
________________________________________________________________
Back to homepage /
Appointment procedures /
Order information /
Contact us /
Enter
Site /
Consultations /
Costs /
Wedding gowns /
Free articles /
Celebrities /
Background /
Magazines /
SA's best and worst /
Save money /
Matric farewell /
Our official Fashion page /
Play intro
_________________________________________________________________________ |