One of the many articles printed about Simon Rademan

Back to homepage                                                                               Enter Site

*

"Van Papierklavier tot vleuelklavier"
Finesse

*

  • 'n Voorblad storie geskryf deur:  Martie Swanepoel

  • Foto:  Marita Keet

Vandag trek hy die rykste van rykes aan in skitter tabberds. Hy glimlag breed op  glansgeleenthede en koop na hartelus. Maar hy het nie so glansryk grootgeword nie. Inteendeel – hulle was brandarm en nie sy pa of ma kon ʼn woord hoor wat hy vir hulle gesê het nie ...

Ek het vir myself klaviernote op ʼn lang stuk papier geteken. Ek het ure daarop sit en “speel”. Klanklose melodieë in my klanklose wêreld. Ek was in Sub B en ons was arm. Maar ek wou só graag klavier speel. Nog my lewe lank. Daar was ʼn tannie wat gratis vir my musiekles gegee het. Sy het gedink ek oefen in die Belmont- hotel. Maar hulle het my weggejaag al het my pa, wat daar gewerk het, toestemming gevra. Toe ‘oefen ek maar op die papier’. Op ʼn dag het die tannie my so staan en luister: Jy oefen nie regtig nie nè? Maar ek het. Ek het meesterstukke op my papierklavier gespeel.

Ons het op die grenslyn gebly. Die witmense hier en  die kleurlinge daar …en ons huis was tussenin. Dis waar ons huis in Ceres was. Aan die ander kant van die treinspoor.

En toe kom die aardbewing en vee ons huis plat. Die bietjie wat ons gehad het.

Die aardbewing van September 1969 in die Tulbach-omgewing was amper soos divine intervension. Hy het ons almal gelyk gemaak. Klas- en rasverskil het daardie nag nie saak gemaak nie. My armmoedige wêreldjie het geskud. Ek voel nog die hitte van daardie dag. Ek proe nog my ma se ryssop van daardie aand. Ons moes gou klaar eet want ʼn besoeker van Worcester af was op pad. Ma-hulle het die kombuistafel nodig gehad. Ons kon nie almal in die vertrekkie inpas nie.

Ek en my broer, Remeurus, het gaan slaap. Ma het ons wakker gemaak en letterlik van die bed afgeruk. Die mure het gebewe. My pa was vol bloed. Van die bakstene het op sy kop geval. Daar was ʼn groot kraak na die sitkamer se kant toe en ek het nog gedink mens kan jou hand daardeur sit. Die berge rondom die dorp het gebrand soos wat die rotse van die aardbewing geval het en vonke veroorsaak het. Niemand het geweet wat aangaan nie. Die meeste het gedink dit is die oordeelsdag. Die dag van vuur. Ek onthou die angs. My ma was histeries en sy kon nie praat nie. Net geluide maak. Sy is doof gebore. Gertruida, mense het haar Ada genoem. My pa was Dofie. Hy het eers op skool doof geraak.

Maar daardie nag het dit nie saak gemaak dat hulle doof is nie. Almal was gelyk.

Die hele dorp se inwoners het daardie nag iewers buitekant die dorp in hulle karre  gaan slaap. Ons het ʼn Prefekkie gehad. Hoe slaap  mens vier mense in ʼn Prefekkie?

Maar Ma en Pa was lief vir ons. Al wou hulle my met geboorte aan my tannie gee. Ma het later verduidelik hoekom. Sy het te veel gesukkel. Sy het appels gepak en vloere geskrop vir ʼn lewe in Ceres-pakstoor. Tot op die nippertjie voor my geboorte. Maar toe kon sy my nie meer weggee nie. My tannie was lank ongelukkig daaroor – dit het gesorg vir groot gevegte. Maar ek was op die beste plek.

Ons het nie geld gehad nie, maar die een ding wat ek as kind gehad het, was liefde. ’n Oorvloed van liefde! Dit het opgemaak vir als. My ouers was doof en ons wêreld was meestal klankloos, maar lyftaal was alles. Ma kon nie vir ons sê sy is lief vir ons nie, maar sy kon dit wys. Remereus het waarskynlik by my ouma-hulle leer praat en ek by hom. My ouma-hulle het aan die ander kant van die dorp gebly en ons het hulle net naweke gesien. Ons kon met hulle praat.

Dis hoekom woorde my so gefassineer het dat ek drama gaan studeer het.  Op die verhoog het mense soos Wena Naudé en Anna Neethling-Pohl die woorde so mooi en perfek uitgespreek. Dit was vir my wonderlik om te hoor na die klanklose wêreld van my ouerhuis.

Oor ons arm was, wou ek van kleins af alles om my mooi maak. Ek het as kind pop gespeel en vir hulle die mooiste klere gemaak. Dit was vir my belangrik want ons moes tevrede wees met klere wat die welsyn kom aflaai.  Dit is nogal ironies, ek het met ander se ou klere grootgeword en nou maak ek 'n lewe daaruit om ander mense mooi aan te trek.  Met luukse glansklere. Dit is my passie om vroue mooi te laat lyk. Dit het 20 jaar lank vir my die sukses en rykdom gebring.

Ek lewe nou baie gemakliker , maar waardeer sukses meer oor ek uit armoede moes opstaan.

Ek koop nou goed wat ek as kind begeer het. Soos gietyster-tuinstelle. Daar het sulkes in die tuin van die Belmont Hotel op Ceres gestaan. Maar dit was vir my verbode om daarop te sit want ek was een van die werkers se kinders. Maar toe ek uiteindelik ʼn gietsysterstel kon bekostig, het ek vyf gekoop.

Ek het in ʼn hotel “grootgeword”, maar ‘die hulp se kinders’ mag nooit saam met die hotelgaste  geëet het nie. Ons moes in so ʼn gangetjie sit en al die waiters het verby ons geskuur. Ons moes vinnig klaar eet. Pa het 45 jaar daar gewerk en toe hy ʼn hartaanval kry, bel hulle my en sê jou pa is nou siek – ‘kom haal hom ...’

Ek was ʼn paar jaar gelede by my skool op Ceres se reünie. Hulle het my soos ʼn celebrity behandel. Van my skoolmaats het kom sê hulle is jammer. Ek is nie seker waaroor nie. Hulle het my daardie nag in die honeymoon-suite van die Belmont-hotel laat slaap.

Maar dit was nie vir my lekker nie. By die reünie het die hoof genoem die Belmont het die suite geborg. Almal het dus geweet ek slaap verniet in daardie suite.

Die erkenning wat my skool my gegee het, was vir my ʼn vreemde ervaring. Ek is nog dieselfde Simon Petrus. Dieselfde een wat destyds in my eerste klein woonstelletjie die mode-etiket, Simon Rademan, gevestig het. Die Simon wat vandag by my groot ateljee werk.

Die boek waaraan ek werk, ryg soos ʼn garedraad deur my lewe. Van die dag tot my ma besluit het sy wil my hou, tot nou.

Ek is steeds die kind wat met begeerte in my hart met passie op ʼn ‘papierlavier’ speel. Maar ek het onlangs vir my ʼn regte vleuelklavier gekoop en ek neem nou behoorlike klavierlesse. Tog is die klavier is toe nie so spesiaal nie, want party mense loop verby dit en sien dit nie eens raak nie! Ek wil heeltyd vir hulle sê: “Kyk nou, ek het ʼn klavier!” Ek gaan nog die mooiste klanke op hom speel. Klanke bring steeds vir my vreugde. Ek waardeer dit meer as ander mense. Maar daar was baie waarde in my klanklose kinderjare. Dit was die boustene van my lewe.

Ek verwerk nou al die dinge in my lewe met die skryf van my outobiografie.

Dinge soos dat maats nie my ouers se doofheid en die snaakse geluide waarmee my ma “gepraat” het kon verstaan nie. Ek skryf oor my grootwordjare en my lewenslesse.

My reis na sukses is nie op ʼn skinkbord vir my gegee nie. Met die jare het ek vrede gemaak met baie goed. Ook met myself. Simon van Ceres. Dofie en Ada se seun wat alles om hom mooi wou maak ...en dit steeds doen.

*

© Simon Rademan Fashion Design Studio CC

________________________________________________________________

Back to homepage   /   Appointment procedures   /   Order information   /   Contact us   /   Enter Site   /   Consultations   /   Costs   /   Wedding gowns   /   Free articles   /   Celebrities   /   Background   /   Magazines   /   SA's best and worst   /   Save money   /   Matric farewell   /   Our official Fashion page   /   Play intro

_________________________________________________________________________

Back to top

One of the many articles printed about Simon Rademan


Copyright © Simon Rademan Fashion Design Studio CC 93/15533/23