One of the many articles printed about
Simon Rademan
Back to homepage
Enter Site
*

"Tjips! Stylpolisie!" Beeld - Onder vier
oë Jo-Ann Floris
*
Beeld
Johannesburg Finaal
Onder vier oë
Onderskrif: Simon
Rademan, mode-ontwerper van Pretoria, dra lank nie meer die
stukkende skoene wat altyd sy lot was toe die Lions-klub nog vir sy
gesin se klere moes sorg nie. Foto's: BRENDA MULLER
More
articles
Tjips!
Stylpolisie!
Wie is Simon Rademan? Maar net
daardie iemand wat moet sê 'trek los, doen oor'
Jo-Ann Floris
Dit kos fyn voetwerk
om nie op die blinde, dowe
Coco te trap nie.
Behalwe vir dié probleme dra sy haar jare goed. Sy het immers al haar
hondemaatjie Chanel en die twee katte Fassler en Butler oorleef.
Nou leef sy tussen
die lappe en halfklaar rokke en voltooide uitrustings in die mode-ontwerper
Simon Rademan se huis en ateljee in Pretoria. Geen hondelewe nie .
Rademan verwelkom 'n
mens op die naam. Hy lyk anders as op die foto's wat ek van hom gesien
het, maar gelukkig help hy my uit 'n potensieel moeilike situasie en
stel homself voor.
Hoekom sou hy
heeltemal in swart geklee wees as hy elke dag vroue én mans in die
mooiste kleure klee, wonder ek, maar vra nie.
In sy kantoor wys 'n
klein skermpie met die druk van 'n knoppie hoe dinge vorder in die
werkwinkel waar 'n groep vroue knip, sny en naai.
"Ek's ongelukkig die
mislike ding hier rond," haal Rademan sy skouers op. "Iemand moet sê:
'Trek los, doen oor, sny oor.' "
Nóú kan ons begin
gesels. Eintlik moet 'n mens begin by die groot bohaai wat Rademan
ontketen het toe sy lys van die tien bes- en swaksgeklede
Suid-Afrikaanse vroue gepubliseer is. Ander ontwerpers was gou om te
vra: "Wie is dié Rademan?"
Van die genomineerdes
wou weet: "Wie dink hy is hý?"
"Almal van ons het
tee-lysies. In jou kop is daar mense wat jy wil nooi na jou partytjies
en dié wat jy seker maak is nié daarop nie. Al verskil met my lysie is
dat dit bekend gemaak word," sê Rademan sonder 'n sweem van skaamte .
"My ma het altyd gesê
as jy by jou voordeur uitloop en jy wil jêm wees, moet jy maar weet jy
gaan gelek word. So as mense celebrities in dié land wil wees, het
hulle die verantwoordelikheid teenoor die publiek om goed versorg en
rég te lyk."
Dis baie eenvoudig:
As iemand weet sy of hy is in die openbare oog en is bereid om te
poseer vir 'n foto wat hulle weet gepubliseer gaan word, is daar geen
verskoning nie.
Die mense wat sy lys
haal, word van foto's beoordeel. "Sommige bekendes sê aan die
fotograaf hulle wil liefs nie afgeneem word nie want hulle dink nie
hulle lyk daai dag op hul beste nie, en dis reg so. Ek val nie die
persoon aan nie; ek lewer kommentaar op wat hulle dra."
'n Nuwe onderbroek
vir elke funksie
Daar was 'n tyd toe
Rademan nie juis 'n keuse gehad het oor die klere wat hy moes dra nie.
Soos toe hy na sy matriekafskeid toe is in 'n koningsblou driestukpak
wat geleen is by 'n neef. Daar was nie geld om sy eie pak klere te
koop nie.
"Ons het arm
grootgeword," vertel die man wat in Ceres in die Kaap gebore is. Albei
sy ouers was doof.
"Die Lions-klub het
vir ons help sorg en gereeld klere daar aangebring. En ek moes alyd
tevrede wees met die stukkende skoene. Dis hoekom ek vandag nog so erg
is oor skoene," laat hoor hy terwyl die bene in sy swart Levi's in 'n
netjiese lyn uitgestrek word. Die blink swart skoene aan sy voete
wikkel liggies.
'n Lagbui laat hom
dubbel vou op die roomkleurige rusbank. "Ek trek 'n nuwe onderbroek
aan vir élke funksie wat ek bywoon. En ek doen drie tot vier funksies
per week . . .
"Dis die ander ding
wat ek vir mense sê: Nie almal kan altyd duur, nuwe klere bekostig nie.
Die naasbeste is om mooi nuwe onderklere te koop. Dit laat jou altyd
goed voel. En iemand wat goed voel, lýk goed."
Hy neem weer 'n
respektabele sitposisie op die bank in.
"Ek dra baie swart.
My hemde is goedkoop, my dasse duur en al my broeke lyk dieselfde. Ek
konsentreer na bo," verduidelik hy, stemtoon die ene ontwerper. In sy
kas is daar 18 pare Levi-jeans.
"My swart uitrustings
is sodat dit nie inmeng as ek mense se klere pas of as hulle op kleure
moet besluit nie.
"Ek moenie deel wees
van die prentjie wat hulle sien nie," antwoord hy die vraag wat ek
vroeër nie gevra het nie.
Die vroue wat vir hom
werk, dra net wit en swart, omdat hy glo die yin- en yang-elemente
daarvan sorg vir goeie karma.
Rademan ontwerp al
die afgelope 16 jaar klere. Dis als die skuld van daai pop van sy
niggie wat hy wou aantrek, vertel hy.
Sy heel eerste poging
was om 'n sakdoek in 'n vierkant te vou en 'n gaatjie in die middel te
knip. "So kom ek toe agter as ek die pop se arms afhaal, die gaatjie
baie klein knip en baie versigtig oor die plastiek-liggaampie woel,
val die materiaal in die mooiste lyne."
Die vroue wat hom
laat huil
Dié belangstelling
van hom moes lank gebêre word omdat die dorp baie konserwatief was. "Daar
was goed wat vroue kon doen en goed wat mans kon doen. Klere-ontwerp
was nie een van die mans-werke nie."
Toe leer sy ouma hom
in die stilligheid tolletjie-brei en laat hom skelmpies gordyne maak
op haar naaimasjien.
"Ja, dit het my
langer gevat om te kom waar ek wou, maar ek sien God se hand daarin --
toe ek uiteindelik my beroep kon begin beoefen, was ek ouer en wyser
en kon dinge beter hanteer."
Amper is dit ek wat
van die lag dubbel vou toe ek hoor Rademan het vyf jaar lank in 'n
bank gewerk.
"Gmmf, ek was Kassier
1. Vreeslike verantwoordelike posisie. Soggens eerste daar om seker te
maak al die tellers kry hul geld betyds, saans laaste uit as almal se
geld mooi gebalanseer en weggesluit is. Ek sou die volgende jaar reeds
geskuif word 'buitelands' toe.
"Daardie jare moes jy
sewe jaar in die bank gewerk het voordat jy toegelaat is om
buitelandse valuta te hanteer."
Ek soek vergeefs na
'n sweempie spot, maar besef dis vir hom 'n ernstige saak.
"Een van my tannies
het my die beste raad nóg gegee: Kry 'n stabiele werk met vaste ure,
dan kan jy in jou vrye tyd jou drome uitleef. Toe koop sy vir my 'n
briefcase en subskripsieaandele en sê ek moet tussen die bank en die
poskantoor kies vir 'n werk."
Sy oë skiet vol trane.
"Ek het baie amazing vroue in my lewe gehad. Sy, my ma, my ouma. Almal
amazing ."
"Seker dié dat jy nie
nou bang is om vroue die reg en verkeerd oor klere te vertel nie,"
probeer ek 'n glimlag uit hom kry. Dit werk.
"Ek sal aanhou om
jaarliks die lys te doen. Ek is nie bang om my opinie te lug nie;
mense kan daarmee saamstem of van my verskil. Die lewe het my geleer
om die punches te vat."
Daai gevreesde groen
pakkie
Ons gesprek probeer
van modes en klere wegkom, maar dit sukkel, selfs as ons begin praat
oor die geraamde spieëls wat jou jouself regdeur die ontvangslokaal en
aanpaskamers laat volg.
"Ek is mal oor rame.
My klere is 'n raam waarin elke figuur kan pas. En mense wat nie
spieëls naby die voordeur het nie, is selfsugtig - hoe moet jou gaste
sien of als nog reg is ná 'n rit?"
Die houttafeltjie wat
hy jare gelede vir R20 gekoop het, se maag lê onder 'n glasbedekking
vol blinkertjies, naalde, koppiespelde, diamanté, foppêrels en
kraletjies en vertel die storie dat hier klere gemaak word.
Dï s alles goedjies
wat van die grond opgetel word nadat 'n uitrusting voltooi is.
Op die mure is foto's
van die bekendes wat hy al help aantrek het: TV-persoonlikhede,
modelle, akteurs, Mejj. Suid-Afrika, Mevv. SuidAfrikas, Mejj. Dowe
Suid-Afrika.
Ons albei is uitasem
toe ons deur die lys is.
"Maar hulle gaan
almal deur die groen pakkie," vertel hy met 'n ondeunde glimlag. Dis
'n lycra-pakkie in verskillende groottes wat vroue moet aantrek sodat
'n liggaamsontleding gedoen
kan
word voordat enige ontwerp eers bespreek word.
Ek bekyk die pakkie
benoud, maar dié intimiderende beker gaan genadiglik by my verby.
Dis amper tyd vir
Rademan se 15:00-afspraak en ek maak my uit die voete.
Coco hardloop nie
saam hek toe nie. Sy het nie gesien toe ek verby haar stap en groet
nie.
*
© Simon Rademan Fashion
Design Studio CC
________________________________________________________________
Back to homepage /
Appointment procedures /
Order information /
Contact us /
Enter
Site /
Consultations /
Costs //
Wedding gowns /
Free articles /
Celebrities /
Background /
Magazines /
SA's best and worst /
Save money /
Matric farewell /
Our official Fashion page /
Play intro
_________________________________________________________________________ |