Some of the many articles printed about
Simon Rademan
Back to homepage
Enter Site
*

"So uniek
soos sy ontwerpe"
Beeld
- Pols
Article by
Johanna van Eeden, Photo by
Theana Caltz
*
So uniek soos sy ontwerpe
Simon Rademan is vanjaar al
20 jaar in die modebedryf. Johanna van Eeden het by hom gaan
kuier vir stylwenke en lewenslesse.
Dis
Vrydagoggend in Simon Rademan se ateljee. Ek wag vir Rademan op ’n
groot sofa met Queen se “Who wants to live forever” in my ore.
Skuins
oorkant my is Niko Grobler, besig om ’n konsultasie met ’n kliënt af
te sluit. Ek kan nie help om te hoor wat gesê word nie.
Dis ’n
pragtige jong vrou wat vroeër haar trourok by Rademan laat maak het,
en nou weer by ’n blink geleentheid met haar trourok op die
loopplank moet verskyn. Ek lei uit die gesprek af daar is iewers in
die ontwerp ’n sleep of ’n lang soom, want sy beken teenoor Grobler
dat sy bang is om te val.
Grobler gesels rustig, soos iemand wat duisende bang bruide al tot
voor die kansel gekalmeer het. Onthou wat Simon altyd sê, is sy raad.
Dis nie hoe jy val nie, dis hoe jy opstaan.
Dit
sal Augustus vanjaar 20 jaar wees sedert Rademan die modebedryf
betree het, nadat hy aanvanklik in ’n bank gewerk het. Nogal vroeg
bevorder en vertrou om met buitelandse valuta te werk, verklap hy,
terwyl hy vir ons ’n toer van die huis gee.
Daar
is die private vertrek, sy kantoor, waar hy nuwe ontwerpe uitdink.
Grobler se kantoor, sonnig met ’n bos rooi rose vrolik-skeef in ’n
pot. Die werkkamer waar elkeen van sy personeellede hul eie
werkstasie het.
Die
vertrek vol trourokke. Die solder met nog rokke. Die paskamer. Die
tuin, lowergroen hier teen vroegherfs, behalwe vir die vye- en
moerbeibome wat al hul somerklere begin afskud het.
Die
eendedam wat hy self gebou het. Die koidam wat hy self gebou het. En
die braaiplek waar hy elke drie maande sy patrone verbrand.
Want
dis hoekom ’n mens ’n Rademan-uitrusting in jou kas wil hê: om te
weet dis ’n uitrusting wat spesifiek ontwerp, gesny, gepas en gemaak
is om die kontoere van jó? lyf te pas. Haute couture.
Dís
hoekom hy nie sommer meer as een meisie uit ’n skool se
matriekafskeidrok sal maak nie. “Ek wil nie hier sit en vir haar sê
sy kan nie ’n rooi rok dra omdat ek reeds vir iemand anders ’n rooi
rok maak nie,” verduidelik Rademan. Eksklusief. Want dis waaroor
matriekafskeid-uitrustings gaan. “Almal wil iets hê wat niemand
anders het nie.”
Hoe
onthou hy sy matriekafskeid? Die foto word opgediep. Dis ’n
bloedjong seun met ’n dikraambril wat daar staan langs ’n meisie in
pienk, met ’n gehekelde sjaal om haar skouers gedrapeer.
Hy dra
’n vlootblou pak en ’n maroen strikdas.
“Alles
wat ek daardie aand aangehad het, was geleen.” Ook die skoene met
die dik hakke.
Hy was
daar saam met Malinda van Schalkwyk. Hy was amper nie by die afskeid
nie, want daar was nie eintlik geld nie. Maar hy onthou dit as ’n
“lekker aand”.
Van
Schalkwyk se gehekelde sjaal is ’n nostalgiese herinnering dat mode
kom en gaan . . . en weer kom. Outentieke handgemaakte items is nou
weer hoogmode, vertel Rademan. Hy wil in van sy nuwe ontwerpe ’n
tikkie daarvan probeer inkorporeer, deur stukkies van sy ma se
hekelwerk by die ontwerpe in te sluit.
Net
anderdag het hy weer afgekom op silwer gare wat sy toe nooit gebruik
het nie. Miskien kan hy dit inwerk met ’n tolletjiebrei-afwerking .
. .
Die
gesprek draai kort-kort na sy ma en sy ouma se kant. Albei die vroue
se naaldwerkskêre hang geraam bokant sy kantoor. Albei het gesterf
ná ’n stryd met kanker.
Dis by
sy ouma wat hy van die beste raad ooit gekry het: as jy begin
peuter, begin van voor af. Die kortpad, sê Rademan, is om van voor
af te begin.
Die
lewe het hom ’n paar jaar gelede letterlik gedwing om weer van voor
af te begin. ’n Abses in sy rug het hom weke lank plat op die naat
van sy rug gehad. Daar, hulpeloos in ’n hospitaalbed en totaal
afhanklik van ander, het Rademan nuwe perspektief gekry.
“Ek
was sterwend. My hospitaalkamer het soos ’n bloemiste gelyk. Daar
was so baie blomme. En toe stop dit. Skielik het ek niks vriende
gehad nie.”
En toe
leer hy iets: Dis die mense van wie jy dit glad nie verwag nie, wat
in moeilike tye na vore tree vir jou.
Twee
weke later sit ek in die gehoor by Beeld se mode-extravaganza in
Pretoria, ’n vertoning waarmee geld ingesamel word vir die koerant
se Kinderfonds. Die vertoning word afgesluit met ’n paar
Rademan-ontwerpe.
Dit
was die groen rok wat my oog gevang het. So met die swiep van die
soom aan die einde van die loopplank, het dit my getref.
Dis ’n
Rademan. Van ver af sien jy iets. Van nader sien jy iets.
Bewondering
Rademan het die grootste bewondering vir die internasionale
ontwerper John Galliano en beskryf hom as 'n "meester-patroonmaker".
Galliano het Charlize Theron se rok vir die 2006-Oscar-geleentheid
ontwerp.
Matriek 2008
Rademan se raad aan matriekmeisies wat 'n rok kies vir die groot
aand:
Druk jou eie stempel af met oorspronklikheid en
plaas aksente op die dele waaroor jy goed voel.
Swart is altyd stylvol en verslankend. Kombineer
teksture daarvan. Dink aan sjiffon, brokaat, satyn en fluweel.
Skoene is fyn, het skerp punte en 15cm hoë hakke.
Grawe jou ouma se borsspeld uit en dra dit as
haarjuwele.
Beplan jou bekomstighede sorgvuldig. . . en onthou
jy is nie 'n Kersboom nie.
*
© Simon Rademan Fashion
Design Studio CC
_______________________________________________________________
Back to homepage /
Appointment procedures /
Order information /
Contact us /
Enter
Site /
Consultations /
Costs /
Wedding gowns /
Free articles /
Celebrities /
Background /
Magazines /
SA's best and worst /
Save money /
Matric farewell /
Our official Fashion page /
Play intro
_________________________________________________________________________ |